The various works of Snyman Rijkloff

Die X-Files

Dit was nou die keer toe Gertjie besluit het om ‘n nuwe rigting in te slaan. Om dit nou mooi te stel, Gertjie, skaars drie-en-twintig jaar op moeder aarde, het maar in hierdie klein dorpie van ons groot geword. En almal hierdie kant van die kerktoring weet dat in hierdie kontrei is daar twee soorte jong mense. Aan die een kant het jy die wat groot drome en kattebakke vol ambisie het, en dit wil gaan maak daar in die stede van Johannesburg en Pretoria, ook bekend as Sodom en Gomorra. Dis nou daardie jongelinge wat vir grade en diplomas gaan studeer en daarna help trek aan die kakebeenwa meer bekend as kapitalisme. Dit is ook gewoonlik die tipe wat meer geneig is om aan te beweeg na die Amerikaanse droom of andersins na die kant van kangeroes en koala beertjies.

Maar dan kry jy nou weer ‘n spesie van ‘n ander gewaad. En in hierdie kategorie, moet ek nou erken, val die meeste van ons plattelanders, jonk en oud. Ons hou van biltong, beskuit en koeksisters. Ons hou van Afrikaans, nie noodwendig oor ons dink dit ‘n verskriklike mooi taal is nie, maar net oordat ons Engels, Spaans en Italiaans veel te wense laat. En ons hou van die natuur en die ooptes. Spasie, is wat ons tipe soek.

Nou Gertjie het wat ek sou noem, ‘n vorm van ‘n identiteitskrisis gehad. Sy was baie lief vir Vetkoek en droë wors. Maar terselfdertyd wou sy in Frankryk gaan bly want die mense is meer gesofistikeerd daar en nie so plat soos ons ander klomp in die dorp nie. Sy het ‘n klomp Franse romans gelees, van hulle so bietjie stout, maar die het vir haar laat glo in ‘n wêreld waar sy baie gelukkig sou wees. Die vervulde lewe en al daai goed, as mens dit so kan noem.

Maar hoe meer sy probeer om weg te kom, hoe meer hou die lewe haar vas hier. As dit nie werk is nie, dan is dit haar ma. As dit nie geld is nie dan is dit ‘n bedrogspel van sekere twyfelagtige karakters. Sy is hierdie kant toe en daardie kant toe maar die planne wil net nie uitwerk nie. Net as sy dink sy het genoeg gespaar, dan breek die kar of ontwikkel sy ‘n maagaandoening wat haar ‘n plaas se prys kos aan bloedtoetse. Maar die wêreld van Croissants sien nie vir Gertruida Vermaak nie.

Sy dag toe, sy het in haar lewe ‘n bietjie helderheid van denke nodig. Sy het haarself oortuig dat die primêre rede hoekom sy nie oorsee kan gaan nie, is omdat sy dit nie in haar hart, siel en verstand het om hierdie droom ‘n werklikheid te maak nie. En daar lees sy toe op een of ander webwerf die voordele van vas. Sy wou nou nie so ver gaan om ‘n watervas te doen nie, maar besluit toe net daar en dan dat ‘n groente-en-water vas vir haar sal werk. ‘n Hele week van die storie. Geen koffie of tee nie, geen koeldrank of suiker nie. Nie eens ‘n bietjie rys of pasta nie. Dit was net groente van oggend tot aand.

Om te sê sy het ‘n bietjie gewig verloor is so effens lig gestel. Sy was glad nie te mollig om mee te begin nie. Die kind het wragtag soos ‘n riet gelyk.

Maar met die het sy haar nuwe lewe gekry.

Dit is van toe af een maal per dag eet en weg met die stysel en suiker.

En jong! Laat ek jou nou ‘n ding wys maak. Sy het darem vir jou die selfdissipline wat selfs ‘n generaal in die weermag na ‘n groentjie sal laat lyk. Jy kon haar nie met ‘n sjokolade of ‘n roomys vang of verly nie. Gelukkig het sy later jare weer tot haar sinne gekom, maar na daardie dae sal ons vir ewig en ‘n dag verwys as die sewe maer jare.

Met die hele storie vind sy toe ‘n paartjie by name Sussie en Filies.

Gebore Filemon Fouche maar vet weet waar in die skool die naam Fielies vandaan gekom het en dit het gebly. Fielies was so in sy mid-dertigs toe hy vir sussie ontmoet het wie op daardie stadium en tot vandag nog heelwat jonger as hy is. Sussie het skaars klaar gemaak met skool, toe trou hulle. Wat sy in Fielies gesien het sal net sy weet, want die man was lank en skraal, en het net velskoene aan daardie stokkies bene van hom gedra. Met ‘n staalraambril en ‘n kantpaadjie is hy nie die man wat vir ‘n James Bond oudisie sou opdaag nie. En geld het hy ook nie baie gehad nie. Hy het so ou Corolla’tjie gery, die voorruit vol krake en kolle met remme wat skree by die trap van elke stopstraat, maar daar was een ding wat in Fielies se guns getel het. Hy is so geboelie op skool dat hy die dikvel van ‘n olifant ontwikkel het en nie ‘n duit of ‘n duim omgee wat mense sê of dink nie. Hy doen sy besigheid en basta met die samelewing. So was hy effens aan die stil kant, en het hy ‘n sterk vorm van selfvertoue uitgestraal wat nogal skaars is in hierdie kontrei. Dit was seker dit wat Sussie na die man toe aangetrek het, want iets anders kon dit wragtag nie wees nie. Die man het aldag en heeldag na skaap gestink, man.

‘Hoe het Gertjie dan nou met die paartjie deurmekaar geraak?’ sal die leser dan op hierdie punt van die verhaal vra. Wel, jy sien, Fielies was ook ‘n geweldige suinige man. Of spaarsamig. Mens kan nie altyd seker wees watter kant toe die pendulum lê nie, maar hy drink Rooibos en Frisco en sal nie ‘n vyf sent in ‘n koffie winkel spandeer nie. Uiteet is daar nie van sprake nie en die asyn werk net so goed soos Sta-soft. By dit alles plant hy sy eie kool en groente daar op die plot, maak hy self sy broeke reg, en is hy heel tevrede met ‘n radio, eerder as ‘n televisie. Sussie het al hierdie dinge na die troue maar so stelselmatig besef en vrede gemaak daarmee. Wat kon sy nou maak? Die man wil nie hoor nie, en as sy die dag blomme koop dan gaan hy deur die dak. “Daar’s mos kosmos die hele veld vol, man! Wie kan in hierdie swaar tye bekostig om nou nog te gaan staan en ‘n klomp verlepte blomme koop?”

Of dit nou suinig of spaarsamig was, die spaargeldjies en skaap kopery het op die ou einde dividende betaal. En nie bietjie nie. Ou Fielies draai toe uit die boer van stewige kaliber te wees. Hy huur nog grond, brei uit, boer vooruit en bring elke lam, ooi en ram ander kant uit. Daar was ‘n tyd wat ons plaaslike koerantjie, Nuus van die Wêreld, vir Fielies elke tweede naweek op die voorblad gehad het. Om te se dat hy by die veilings spesiale aandag gekry het, is om dit sag te stel. Dit was nou nie altemit nie. Fielies het goed gedoen en die wêreld van ons klein dorpie het dit geweet.

Tot Fielies se krediet, het die geld nooit na sy kop toe gegaan nie. Hy het al die tyd steeds in sy nederige huisie daar op die plotte gebly, steeds sy kool en wortels geplant en Sauerkraut gemaak, en bietjie vir bietjie daardie miljoene in ‘n rekening iewers loop gooi. Spekulasie was dat die welvaart alles in Panama was. Ander weer het gesê die Kaaimanseilande. Maar niemand het regtig geweet nie. Hulle sê nie eens Sussie het geweet nie.

Hoe my Gertjie toe nou by die storie in pas, was dat sy mos nou na die groente gevreet van haar, kop in een mis is met almal wat so geweldig gesond en organies en spaarsamig lewe. Kyk, as sy en ou Fielies eers aan die gesels raak, kon niemand hulle keer nie. Dis net gesondheid hierdie kant toe, en geld spaar en spesiale aanbodte daardie kant toe, soveel so dat arme ou Sussie naderhand net haar oë gerol het.

Dit was nie dat Fielies en Gertjie ooit iets in die sin van romantiek aangehad het nie, maar vat dit nou vir die waarheid, daardie twee kon ‘n hond uit ‘n bos uit gesels het. Die opgewondenheid as hulle eers aan die gang is oor hierdie resep of daardie oefening, was iets om oor huis toe te skryf. Wanneer Fielies dan in die aand alleen met Sussie is, met net die radio vir geselskap, dan het hulle nie veel om vir mekaar te sê nie. Sussie het al meer begin wonder oor hoe wonderlik die lewe nie sou gewees het met ‘n groot plat-skerm televisie en bietjie roomys met sjokoladesous. Sy het nou begin moeg raak vir al die kool.

Toe sy later met hom skei, toe laat glip sy dit dat sy haarself nie sien as ‘n oppervlakkige persoon nie maar dat al die gasse en winde wat so opbou in ou Fielies se maag een van die redes is waarom sy nie meer met hom kan saamleef nie.

Dit is dan nou juis die tyd waar die x-files begin het.

Toe Fielies en Sussie getroud is, het hulle maar armsalig en eenvoudig gelewe. En daar was nie pyne nie. In ons ou dorpie gaan daar nie veel aan nie en die gejaag na geld los ons mense maar vir die groot kokkedore daar in die stad. Vyf jaar later egter, het ou Fielies vir hom ‘n mooi nessie vol eiers gebou, en hoe meer hy die nessie warm hou, hoe meer sien Sussie plasings op Facebook van Italiaanse villas en vakansies op plekke baie ver van die Republiek van Natalia se grense af.

Nou is daar altyd ‘n jong arrogante prokureurtjie wat nie kan werk kry nie maar die gawe het om groot somme geld soos kaas uit te snuif. As die kaas ryk, goed en genoeg is, dan is die term pro-bono vanselfsprekend. Dis toe juis so vent, 'n ene Swanepoel, wat oor Sussie se pad kom, en haar ‘n goeie gat in die kop in praat. Ou Fielies moet nou ordentlik vir haar begin sorg of sy gaan met hom skei en dit gaan nie ‘n baie mooi affêre wees nie.

Fielies aan die ander kant is nou een van daardie manne, soos die meeste manne in die dorp, wat nie veel weet van vrouens en emosies en al daardie klas van dinge nie, en so hoor hy die dinge wat Sussie alles praat, maar hy verstaan dit nie lekker nie. Hy kan net sien sy is ongelukkig, en dag hy nooi haar maar vir ‘n piekniek daar onder teen die rotse by die spruit, maar sy wil niks weet nie. Hy sit later so mismoedig daar op die rimepiesbank op sy stoep en sing sy klaagliedere aan niemand anders as Gertjie nie. Hy en Sussie was dan so gelukkig en het nie 'n probleem van 'n dag oud gehad nie. Hy weet nou regtig nie wat verander het nie. En hoe meer die man probeer om agter die kap van die byl te kom, hoe meer kuier Sussie in die kafee met die Swannie prokureurtjie en al sy baie papierwerk.

Nou ken ek ook maar vir Gertjie. En ek hou van Gertjie. En sy kan baie skerp wees die dag wanneer daar 'n katestrofe aan die kom is. Maar oor die algemeen het sy nie regtig veel van wat mens sou noem, die dieper insigte tot die siel van 'n man nie. Oor haar nuwe lewe sonder stysel of suiker, haar nuutgevonde kimchi en suurkool resepte, en al die talle oefeninge wat sy soos 'n Franse soldaat doen, kan sy ure lank oor gesels. Oor die probleme met Sussie egter, het die wysheid effens aan die kort end getrek. 

En ou Fielies is maar ook net homself. As hy 'n haas uit sy hoed uit kon trek dan het hy, maar die Sussie het by daai tyd toe nou goed haar besluite geneem. Hulle, dis nou sy en Swannie met sy deftige pak klere gaan vir Fielies kaal uittrek. Sy het nog nie eens die geld nie maar komandeer haar nuwe raadgewer om sommer haar testament te wysig na aanleiding van die verwikkelinge. Swannie glimlag breed en se hy doen dit sodra hy die ding in die hande het. Sagkuns laat sy dit toe val dat sy nog nie so iets soos 'n testament besit nie en dat hy dit maar vir haar so gou moontlik moet optrek.

Of Swannie geweet het wat hy doen of nie, sal ek nou nie kan se nie. Maar wat Gertjie my toe na die tyd vertel is dat een laat middag net voor die son oor die rante verdwyn, toe land daar 'n pak leers op sy kombuistafel. 'n Opsomming, of te wel, deel van 'n opsomming van sy besigheid en finansiele lewe tot dusver. En die somme was, om dit ordentlik te hou, substansieel. En dit was nie net somme nie. Geen mens kon uitmaak wat daar aan gaan nie. Dit was regs-briewe voor en wat hulle noem regs-opinies agter, en hofsake van nog voor Jan van Riebeeck se tyd met 'n hele biblioteek vol ander dokumente.

Fielies is dadelik op die foon want hy wil by sy ouditeer weet waar Sussie aan al die goed kom. Is dit nie konfidensieel nie? Sy Ouditeur wou hom laat weet het wat aangaan maar kon hom nie in die hande kry nie. Fielies was blykbaar nie aldag by die huis om die foon te antwoord nie en met 'n selfoon is hy minder as handig.

Maar daar sit hy toe nou. Met daardie pakke leers langs die Mokka potjie op die kombuistafel. Hy sien toe net donker tye voor le en drink sy koffie net swart.

En so sit Fielies en Gertjie, dag in en dag uit om daardie tafel en probeer om die ding baas te raak. Maar eintlik het nie een van die twee 'n idee nie. Enige rasionele persoon sou mos nou al lankal 'n prokureur gekry het om die saak te behartig, maar ou Fielies reken sy vrou gaan alles vat, en dan sit hy met 'n klomp gebakte pere in die vorm van skuld aan die prokureur. En dit wil hy nie he nie. Self sal hy die pot roer, en hoop vir die beste.

Ek het begin wonder waar Gertjie so met al haar dae bly, en sy't my in geen onduidelike terme laat weet dat sy besig is met die X-files. Meer korek, hulle is besig met die X-files. Gertjie se ma kan my nie voor haar aangesig verdra nie, maar selfs die ou tannie het my gebel om te hoor of ek dalk weet met watse spul haar dogter besig is. Toe ek die X-files noem, het ek my verbeel ek hoor 'n gehuig soos ‘n haena wat 'n paniekaanval kry. Ek dink nie Mevrou Vermaak het dit te goed gevat nie.

Ek het geweet beide Gertjie en Fielies gaan weldrae tot hulle sinne kom, en dat dit net ‘n kwessie van tyd was. Maar hoeveel tyd? Sussie en Swannie laat nie op hulle wag nie, en gooi die sperdatums asof die einde van die wêreld enige oomblik gaan aanbreek. Swannie se offisiele dokumentasie bly ent aan kom, en op en om die kombuistafel van die Fouche huishouding is dit X-files, X-files en nog X-files. Fielies, soos hy gewoonlik doen wanneer hy oorweldig is met akademiese oefeninge, krap sy hare net deurmekaar en verlang alewig na die ou dae toe alles eenvoudiger was.

Ek kon sien die ding haal vir Gertjie uit, (of dit nou al die regs-papiere was of Fielies se mismoedigheid, is ek nie honderd persent seker nie,) en ek dag toe laat ek my hand in die storie probeer.

“Sussie,” sê ek toe ek met ‘n melktert en koeksuster vir haar in haar suster se woonstel gaan kuier. “Was jy al ooit in Frankryk?”

“Nee,” sê sy. Sy was nog nie in Frankryk nie.

“Kan jy Frans praat?”

“Nee.” Sy kan nie Frans praat nie.

“Lekker melktert hierdie, nê?”

Kyk, ek het dit skaars gesê toe bars sy in trane uit. Ek het haar uintlik jammer gekry want sy het pas haar mond vol melktert gestop toe sy daardie teelepel in die bordjie laat val, vir die mat op die blokkies vloer voor haar staar en die trane oor haar wange rol. Sy kon nie sluk nie, maar sy wou met die deftige man voor haar ook nie die goed terug in die bord spoeg nie.

Dit blyk toe dat die hele affêre haar ook, om dit lig te stel, lekker moeg gemaak het. Om realisties te wees, sy het skoon uitgemergel gelyk soos wat sy daar sit. Jy, ek is ook maar ‘n man, en die ding het my ook tot ‘n goeie mate onkant getrap. Ek kyk toe maar na die parkiete in die hok en sien dat hulle die oggend son baie meer as Gertjie geniet.

“Ek het nie gedink,” begin sy toe sy eers bedaar het, en die tert in die keelgat af is, “dat dit so verskriklike moeilikheid gaan af gee nie. Ek het maar net iemand gesoek wat na my sal luister. Niemand luister ooit na my nie. Nie Fielies nie. Nie... nie... niemand nie!”

“Dit wil my voorkom Swannie het geluister.”

“Ja,” haar mond trek skeef, haar gesig vol van die hartseer. “En toe gaan hy aan oor ek verdien ‘n beter lewe en Fielies verdien nie iemand soos ek nie en ek verdien beter en dat ek met hom moet skei en al so aan. Maar dis nou oorlog. En ek wou nooit hierdie oorlog gehad het nie. Ek is nie ‘n oorlog mens nie. Ek is ‘n blomme mens. Maar nou weet ek nie wat om te doen meer nie.”

Ek sê niks. Skud net my kop terwyl ek sien hoe die mukus by haar neusie uit en oor haar lippe loop. Snot en trane sit sy daar in haar selfbejammering. Maar sit, sit ek. Ek is nou nie ‘n ou wat jong meisies al dag staan en paai nie, maar as ‘n man soos Fielies in die slag ly, bly daar nie veel oor as om vas te skop in die loopgraaf nie. Natuurlik is my hoof prioriteit hier Gertjie se welstand, maar ek sal dit nou nie in die publiek erken nie. ‘Laat my goeie dade maar vir hulleself spreek,’ is wat ek altyd sê.

Nietemin, na Sussie haar hart uitgepraat en gehuil het, en ek hoor dat sy drie dae laas geslaap het, toe is sy meer oop vir voorstelle. Of eerder, sy gryp my voorstelle aan asof dit manna uit die Hemel is. Haar oe blink van blydskap, (en trane seker, ek weet nooit mooi nie,) en net daar en dan is dit asof die wereld van haar skouers af val.

“Maar!” gil sy met angs in haar oe. “Swannie sal betaling wil hê, nie so nie? Hy gaan se ek het sy tyd gemors!”

“Was dit pro bono?”

“Ja.”

“Het jy ‘n kontrak met hom geteken oor vergoeding?”

“Nee. Dit was alles... ons het net gepraat.”

“En hy het jou oortuig om te skei van Fielies?”

“Ongelukkig ja... Maar hy het goed bedoel...”

“Goed bedoel my mooi boude. Daai ou gaan nie ‘n sent uit jou of Fielies uit kry nie.”

“Maar as hy my dagvaar?”

“Dink jy die magistraat hier in die dorp gaan na daardie lae lak luister na jy en Fielies weer saam terug is en hy die hele storie gehoor het?”

“Seker nie.”

“Verseker nie! Ons liewe magistraat hier in die dorp sal daardie perd op sy agter-end hier uit die dorp uit skop.”

“Jy’s darem slim met die goeters, Janneman.”

“Kan ek vir Fielies bel?”

“Bel hom en se vir hom hy moet die water op sit. Ek, Sussie Fouche is oppad.”

Toe ek hom bel toe is dit Gertjie wat antwoord. Sy val weg met die feit dat sy moeg is en nie nou tyd het vir my om te kom staan en grappies maak nie.

“Wel my ou ding, hiervoor het jy tyd.”

“Wat’s dit?”

“Sussie kom huis toe. Maar daar is voorwaardes.”

“Voorwaardes?”

“Voorwaardes ja. Fielies koop vir haar die grootste plat-skerm TV wat hy kan kry. Daai wat so kurwe het en al. Ken jy hulle?”

“Ja ja, wat nog? Jy’t gese voorwaardes. In die meervoud.”

“Fielies vat vir Gertjie Frankryk toe vir ‘n maand.”

“En?”

“Dis dit.”

Daar was so oomblik van stilte aan die ander kant.

“Dink jy hy sal gaan daarvoor?” vra ek.

“Janneman, ek weet nie hoe jy dit reg gekry het nie, maar ou Fielies sal haar maan toe vat as hy moet. Maar wat nou van al hierdie x-files?”

“Nee wat, vat daai x-files maan toe as jy wil.”

“Sorg jy net dat jy saam met Sussie hierna toe kom. Dan bespreek ons ons eie trippie Spanje toe.”In daardie opsig was ek dan ook net soos Fielies. Vir Gertjie, eer my waarheid, sal ek enige iets doen.